Raspertand - Nr 0001 - Raspertand kry 'n rekenaar.

 

Raspertand, 'n imaginêre karoo-jakkals, het vir Annette, JP, Andre en Paul baie vreugde verskaf met sy verhale. Hy het destyds nog geryloop, maar hy het ook in die welvaarts-tsunami gedeel en het deesdae 'n selfoon, motor en ook nou 'n ou PCtjie.

 

Hy het besef dat sy kinders, en nou ook kleinkinders, met die goed doenig is en dus het sy gesprekke rondom 'n skaapbraai al minder relevant geword. Almal praat van dit wat op die „Net“ te vinde is.  Met die dat oorle Oom Grysstert se boedel nou ook afgehandel is het hy 'n ou geldjie van Oom Grottie, wat die eksekuteur van die boedel was, gekry.  Raspertand het toe dadelik vir Neef Hardebyt gekontak wat vir hom 'n ou laptoppie voorgestel het.  

 

Nouja die eerste ding was om te weet hoe om die ding aan te skakel en iets 'nuttig’ te doen. Klein Rassie  het vir Oupa baie gehelp. Hy weet 'alles’ en kon gou vir Oupa 'n e-mail stuur. Nie dat Oupa eintlik weet wat 'n e-mail is nie, maar hoe kan 'n mens nou dom in jou kleinkinders se oë wees?  Hy het toe maar instemmend geknik en gedink hy sal by die volgende oud Skaapstelersbraai vir die ander manne vra wat 'n e-mail is.

 

Een oggend skakel Raspertand die rekenaar aan en daar verskyn 'n boodskap „Mydoom Virus Found“  Die koffietjie het amper 'n u-draai gemaak soos Raspertand skrik.  Wat nou gemaak? Kan 'n mens nou vir Neef Hardebyt bel?  Hy is so 'n besige man.  Hy is meer op ander plase as hier op die familieplaas.  Hy werk mos deesdae veral onder die rooijakkalse.  Dit is darem tragies dat 'n mens nie meer genoeg skaap hier naby kry nie.

 

Nouja, volgende keer vertel ons hoe die gesprek met Neef Hardebyt verloop het.

-=-

 

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

  www.raspertand.co.za

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>