Raspertand - Nr 0004 - Raspertand onthou!

 

Oupa Raspertand stap toe een herfs-middag om 'n brood en 'n koerant te gaan koop by neef Rassie se swaer se winkel. Dit is mos lekker om 'n bietjie uit die huis te kom. Noudat hy afgetree het en nie meer so aktief Boer se skaap jag en vang nie, het hy tyd - miskien 'n bietjie te veel tyd. Dis die kinders en kleinkinders wat elke dag so rond hardloop om alles aan die gang te hou. Dis van die werk, tot die kerk en skool tot die studente se jool. Hulle het te min tyd.
 

Terwyl Oupa Raspertand so stap sien hy 'n jong jakkals in 'n luukse 4x4 met 'n V8 en 'n diep stem wat sê galon-galon. Dis nou 'n vuurwa wat lief is vir die diesel. Vandag se hees stemmetjies sê liter-liter,maar hierdie een was 'n meneer van 'n V8. Die V8’s het nie in die vroeë 1970’s na die SI metrieke stelsel oorgeskakel nie. Hulle het by galon-galon gebly.
 

Skielik onthou en besef Oupa dat hy ook soos die jong jakkals na dit wat die eie-ek (ego) streel, gestreef het. 'n Motor, geleerdheid, geld en welvaard - dis nou dinge wat vir die ego belangrik is. Dit verander 'n jakkals. Die ergste is dat 'n jakkals dit nie eers agterkom dat hy geleidelik verander nie.
 

Oupa Raspertand onthou toe ook dat hy hom mos die een jaar baie sleg misreken het en toe aan 'n siek skaap van Boer gaan byt het en so het hy toe vir 'n hele seisoen nie kon jag nie. Hy het skeerbek opgedoen. Op die koop toe het hy mos ook getrek na Boer-Boel se plaas, want in sy ydelheid het hy gedink daar sal nou éérs baie skaap wees. Dit was maar die strewe na welvaart wat dit veroorsaak het. Hy het gedink Boer-Boel se skaap is vet en volop, maar dit was toe nie so nie. Boer-Boel het wagte en elektriese drade. Die gevolg is dat dit 'n moeilike tyd was met min kos. Hy het 'n sleg „dip“ gevat. Sy selfvertroue het hom amper heeltemal verlaat. Die kos en geld was daardie jaar baie skaars. Hy het die balju net-net vrygespring.
 

So 'n droogte in 'n jakkals se lewe is soms so nodig. Hulle sê mos die bougenvillas en jakarandas blom ook mooier as dit die jaar nie te vroeg begin reën nie en hulle 'n bietjie swaar kry. So het die droogte en tyd van min hê Oupa se oë geopen sodat hy deur die genade van die Here nou weet dat of dit 'n 4x4 of 'n skapie op die tafel is, dit is alles genade. Jakkalse verdien niks. Hulle is skelm gebore en word net skelmer soos die jare aanstap. As daar nie op 'n dag 'n verandering kom nie, is 'n jakkals soos hy gebore is. Koning Dawid van Israel het mos ook die volk laat tel om te sien hoe sterk hy as koning is. Die Here het sy ydelheid gestraf.
 

Toe Oupa die toeter hoor was dit amper te laat, maar gelukkig het 'n aankomende 4x4 met 'n jong stadsjakalina aan die stuur net betyds kon stop voor hy omgery sou word. Oupa besef toe dat hy ook al verby neef Rassie se swaer se winkel gestap het! Hy het te veel loop en onthou.
 

Volgende keer vertel ons van die klasse-stelsel waarin Oupa Raspertand groot geword het. Toe hy klein was het die Rooijakkalse en die Silwerjakkalse nie gemeng nie. Hulle het elkeen maar sy eie kolletjie in die Karoo gesoek en daar skaap gejag.
 

-=-=-

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

  www.raspertand.co.za

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>