Raspertand - Nr 0005 - Die verskillende troppe.
 

Oupa Raspertand stap toe terug nadat hy die brood en koerant by neef Rassie se swaer se winkel gekoop het. In die winkel het Raspertand begin dink aan die tyd toe hy nog klein was. Daardie jare was daar nie supermarkte soos vandag nie. Winkels het 'n toonbank gehad en al die produkte was agter. Iemand moes jou help. Self-help was nog nie algemeen nie. Jakkalse het wel hul self gehelp op Boer se plaas, maar die kuns was dat Boer nie moes weet dat jy jouself help aan die heerlike skaap nie. Die selfhelp was ook sonder betaling! Boer het natuurlik agtergekom dat sy skaap minder word. Jonas het gereeld skuld gekry dat hy vir homself 'n skaap gegaps het! Dit was egter Oupa Raspertand-hulle wat heerlik gesmul het. Jonas het probeer verduidelik dat dit die Jakkalse is, maar Boer het groot geword met die gedagte dat Jonas-hulle die skelms is. Dit is natuurlik ook tussen die diere van die groot Karoo 'n baie, baie sensitiewe saak.
 

Terwyl Raspertand so stap onthou hy dat sy een oom, Rowwe Rooie, die leier van die Rooijakkalse geword het. Hy het daarop gewys dat Rooijakkalse darem van 'n beter klas as die Silwerjakkalse is. Die Silwerjakkalse moes deur die Karoo en Kalahari trek. Hulle moes alleen op hulle eie gaan bly. Die wat nie kon nie, moes vir die Rooijakkalse begin werk en jag. 'n Paar jaar later moes hulle ook begin om naamkaartjies te dra. Later moes 'n Silwerjakkals vir alle Rooijakkalse sê „U edele“. Die jakkalse was verdeel. Klein Rooijakkalsies het ook sonder respek van die Silwies begin praat. Die Silwerjakkalse het self ook begin glo dat hulle dom is! Hulle het ook begin hakkel, want hulle was so op hulle senuwees en bang as hulle 'n Rooijakkals sien.
 

In die tyd toe Oupa Raspertand in sy middeljare was, het die dinge so erg geword dat Rooijakkalse van verskillende plase ook nie meer met mekaar kontak gehou het nie. Die jakkalse van Putsonderbodem was darem so 'maer’, arm en 'eenvoudig’. Die Putsonderbodem jakkalse het nie met servette geeet nie! Hulle het ook nie twee keer per dag gebad nie. Hulle het selfs skaap afval geeet! Die Raspertand trop was darem van 'n hoër klas.
 

Die ding met die Rooijakkalse, onder leiding van Rowwe Rooie, het in die hele diereryk 'n onding geword. Die verdeling is deur die Raad-van-diere-troppe (RVDT) veroordeel. Dit is tot 'n misdaad teen medediere verklaar. Later het die RVDT die Rooijakkalse verbied om te reis. Een oggend is Rowwe Rooie deur 'n Silwerjakkals in 'n rooijakkals vermomming dood gebyt. Dit was wêreldnuus! Dit was die begin van die verandering terug na gelykheid tussen die Rooijakkalse en die Silwerjakkalse. Dit het egter 'n klompie jare geneem voordat die Silwerjakkalse weer as gelykes van die Rooijakkalse gesien is. Vandag is daar redelik vrede tussen die jakkalse, maar daar is tog nog Rooi- en Silwerjakkalse wat die ander met groot agterdog en minagting aangluur. Daar is ook Rooijakkalse wat reken dat hulle darem beter is as die gemiddelde Rooijakkals.
 

Terwyl Oupa Raspertand so huistoe stap, sien hy 'n klompie Silwerjakkalse wat op die sypaadjie sit en hoop vir 'n tuinwerkie. Hulle kry nie werk nie, want hulle het nie op skool geleer nie en die Rooijakkalse is maar versigtig om 'n Silwerjakkals in diens te neem. Daar is nou selfs Rooijakkalse wat nie werk kry nie en bedel by die straatkruisings. Hulle is te trots om karre te was en tuinwerk te doen. Hoe lank sal die vrede tussen die jakkalse hou? Oupa is optimisties. Hy weet dat as die Here genadig is kan die vrede hou, maar hy weet ook dat die jakkalse dit nie verdien nie.

 

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

  www.raspertand.co.za

 

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>