Raspertand - Nr 0006 - Die Lang Slaap.
 

Raspertand het mos in 1985 na 'n siekbed van 'n week in die hospitaal aan die slaap geraak. Wat anders aan die slaap was, was dat dit vir byna 15 jaar geduur het. Hy het as kind die storie van Rip van Winkel gehoor wat ook baie lank geslaap het! Niemand kon vir Raspertand wakker kry nie. Sy familie was baie bekommerd - soos wat 'n mens en jakkals kan verwag.
 

Raspertand het die 1'e Desember 1999 wees wakker geword! Die eerste ding wat hy gesien het, was dat een van die jong verpleegsters met 'n klein kassie gesels. Dis snaaks. Sy eerste gedagte was dat sy seker maar nie goed voel nie. Dis toe 'n selfoon! Langs sy bed was daar iets soos 'n telefoon, maar nie met die ronde skyf met nommertjies nie! Dit het knoppies gehad en daar was ook n * en 'n #. Verder was die 'telefoon' ook nie swart nie, maar so 'n ligte geel kleur. Die koerant het 'n selfs ‘n kleurfoto op gehad!
 

Met sy poot het hy gevoel of hy nie koors het nie, want dinge het so vreemd gelyk. Selfs die verpleegster het dan nie n wit kappie op gehad nie. Sy oog vang 'n bed met n silwerjakkals in! Hoe is dit moontlik? Silwerjakkalse gaan na hulle eie hospitale! Toe sien hy iemand soos n dokter met ‘n kassie wat ‘n skermpie soos ‘n TV het, maar dis net sowat 75 by 125 mm. Hoe is dit moontlik? Hy lees in die koerant van e-pos, die Internet, CDs en DVDs wat alles vreemd en nuut is.
 

Dis toe wat hy sien die datum van die koerant is 1 Desember 1999. Hy het so geskrik dat hy gil : "Help help!" maar hy word nie wakker uit sy droom nie. Hy was wakker….
 

Die koerant praat van die Stormers en die Katte. Dit was tog altyd Natal, WP en die Vrystaat. Die susters kom toe teen groot spoed toe hulle besef dat Oom Raspertand wakker geword het.
 

Raspertand kon nie dadelik huistoe gaan nie. Dr Tim wat toe, nadat dr Spok afgetree het, sy dokter was, wou eers baie seker maak dat alles reg was.
 

Raspertand lees met skok dat jongmense nou saam bly sonder om te trou. Baie mense gaan nie meer kerk toe nie. Mnr Mandela is nie meer in die tronk nie. President PW Botha, met die streng wysvinger, het afgetree! Die Berlynse muur is afgebreek en Rusland opgebreek. Daar is nie meer tuislande nie. Almal is nou oral welkom en tuis. Sy kop draai omtrent!
 

Volksbank is nou ABDB (Almal se Beste Duurste Bank) Ds. Gysbertus is saam met 'n paar ouderlinge afgeneem in kortbroeke. Hulle het nie pakke en wit dasse aan nie. Hoe het dinge nie verander nie! Die kinders doen nou grade tot by 12, maar hy weet net van matriek wat standerd 10 was! Alles is vreemd, tog bekend.
 

Toe hy weer tot verhaal kom, sien Raspertand die Bybel op sy bedkassie en sowaar, die Bybel sê nog steeds: “God is van ewigheid tot ewigheid dieselfde!“ Die vereiste vir redding is nog net dieselfde: bekering en geloof in Jesus Christus, die Seun van God. Hy kon toe rustig raak. En weet dat hy dieselfde Here ken.


Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

  www.raspertand.co.za

 

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>