Raspertand - Nr 0007 - Om uit die ding te kom.

 

Oupa Raspertand het ‘n nominasie aanvaar vir ‘n kompetisie soos wat sommiges reeds per SMS verneem het.  Hy het gans te vinnig ja gesê!  Soms sê ‘n jakkals mos ja vir ‘n ding voordat hy mooi gedink het.  Dit spaar mos ‘n verleentheid. As jy nee sê kan die ander een dalk sleg voel. ‘n Jakkals  dink mos soms ‘n probleem gaan self weggaan, maar dit gebeur ook nie altyd nie.  Soms word die probleem net baie groter deur dit te ignoreer en te maak of dit nie bestaan nie.  Nou klink dit seker soos ‘n raaisel.  Laat ek vertel van Oupa Raspertand se situasie.

 

Dit het so gebeur:  Neef Hardebyt het by Oupa Raspertand gekuier en oor ‘n skaapbraai het hulle lekker gesels in die bos.   Neef Hardebyt vertel toe van ‘n kompetisie wat gehou word om die “langstert” jakkals te vind.  Oupa Raspertand was so gevlei deur die moontlikheid om te kan wen dat hy nie mooi gedink het nie.  Hy sê toe sommer vinnig ja.  Later die aand toe Neef Hardebyt weg is, vra Ouma vir Oupa nou waarvoor die nominasie nou eintlik is.  Oupa het toe in die antwoord uitdink al begin klei trap.   Hy het ook besef dat hy in sy ywer reeds vir ‘n paar vriende en familielede SMSe gestuur het, want hy was so bly om genomineer te word.   Dit het die saak net vererger soos wat gou duidelik geword het.

 

By verdere ondersoek het Oupa toe besef hy moet vinnig uit die ding kom, want dis nie iets waarmee ‘n eerbare jakkals hom moet besig hou nie.  Hy het hoe langer hoe onrustiger oor die kompetisie geword.  Hy het besef dat dit net oor die “ou jakkals” gaan.  Dit sou nêrens ‘n positiewe bydrae tot ander lewer nie en sou net ander jakkalse minderwaardig laat voel.  Hy het besef dat sy kleinkinders dalk later skaam kon voel oor hulle oupa in die kompetisie.  Dalk kon een van die kleinkinders in sy voetspore volg en verder gaan.  Die gevolg is dat hy toe op die 14’e Junie onttrek het.   Hy is nou maar nog skaam oor die ding en weet nie hoe om dit te hanteer nie.  Hy sal in die toekoms beter besin oor dinge en nie toelaat dat so iets so gou na sy kop toe gaan nie.  As so iets na ‘n jakkals se kop toe gaan, dan is hy kort voor lank in sy eie oë baie belangrik.

 

Die enigste uitkoms was maar om die bul by die horings te pak.  Oupa het toe ook so gemaak en hiermee vra Oupa Raspertand amptelik om  verskoning dat hy verwagtings by jakkalse geskep het en ook nie betyds laat weet het van sy honderd en tagtig grade omkeer nie.  Om die bul by die horings te pak kort meestal baie moed.  Dit lei soms daartoe dat jy in ‘n verleentheid kom.  Dit kan ook die gevolg hê dat jakkalse besef jy is nie regtig so goed en foutloos soos dit soms lyk nie.  Maar as ‘n jakkals in ‘n grot instap en hy stap al dieper, is dit beter om dadelik om te draai voor hy nog verder stap.  As hy verder stap moet hy tog net later omdraai. Hy loop nog die gevaar dat hy kan verdwaal en dan is omdraai nie meer so maklik nie.

 

Oupa Raspertand het betyds omgedraai.  Dit was waarskynlik nie sonde om aan die kompetisie deel te neem nie. Oupa Raspertand het nie gesê wat die aard van die kompetisie was nie.  Dit is nou nie meer belangrik nie.  Die belangrike ding is dat Oupa Raspertand die genade ontvang het om te kon omdraai.   Hy kon omdraai soos iemand wat uit ‘n grot uit stap, voordat hy heeltemaal verdwaal het.  Hy kon soos die verlore seun waarvan Jesus vertel het, tot inkeer kom. Lees Lukas 15:11-22.  Die verlore seun het sy fout besef en dit bely teenoor sy vader.

 

Nouja, volgende keer gaan ons verder van Oupa Raspertand se ander kaskenades hoor.

 

-=-

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

  www.raspertand.co.za

 

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>