Raspertand - Nr 0008 - Raspertand reise in Afrika.

 

In die tyd van koning Witvoet het Raspertand se familie rustig in die Karoo gebly, maar toe koning Geelstert daar aan die bewind gekom het, was dit anders.  Dinge was nie maklik nie en kos was skaars.  Raspertand en baie van sy tydgenote moes toe noodwendig Noord trek vir kos.

 

Hulle het soms in troppe getrek, maar ook nie altyd nie. Raspertand was maar ‘n alleen-jakkals. Die jakkalse kan nogal uithaak as hulle so ver van die huis af is, veral as hulle in ‘n groep beweeg.  Dan doen hulle dinge wat hulle tuis nie sal droom om te doen nie.  Maar ons gaan nie nou daaroor praat nie.

 

Daar is getrek oor baie riviere. Vandag is daar brûe oor die riviere, maar in daardie tyd was daar nie brûe nie en ‘n jakkals kan nogal bangerig wees vir die water.  Dis dan nat en koud op ‘n warm lyf.  Die rivier is soms ook ‘n groter grens omdat daar so baie stories in omloop is oor die rivier en oor die oorkant van die rivier.  Daar is die krokodille, die draaikolke en ander bangmaak-dinge.  Baie van die stories het in koning Witvoet se tyd ontstaan om sy trop duskant die rivier te hou. Een van die stories was dat skaap anderkant die rivier sout vleis het. Dit sou so sout wees dat ‘n jakkals hom sou dood drink aan water na een byt aan ‘n Transoranje skaap.   Vir ‘n Karoojakkals is dors iets algemeen en die gedagte aan ‘n soutsmaak in die mond is iets aaklig wat vermy moet word.

 

Raspertand moes, toe die nood groot genoeg word, oor die rivier. Hy is versigtig oor die rivier by ‘n laagte waar daar darem baie rotse in die rivier is.  Nadat hy oor is, het hy ook vir weke nie enige skaap gejag nie.  Toe hy dit nie meer kon hou nie, eet hy toe skaap en sowaar dit smaak maar net soos Karoolam!  Iemand het op ‘n keer gesê honger is die beste kok, maar in dié geval was dit nie al rede dat die skaap so lekker gesmaak het nie. Die Transoranje skaap was net so lekker soos die Karoolam.

 

Raspertand is oor die Oranjerievier, Sandrivier, Groot Vetrivier, Vaalrivier,  Limpopo,  Zambezi, en later die Congo, Niger en Nyl. Elkeen van hierdie riviere het ‘n lang storie om te vertel.  Daar is ook die kleiner riviere, maar hulle tel ons nie nou nie.  Elke rivier is ‘n grens om verby te gaan. ‘n Mens kan duskant die grens bly.  Jy kan jare aan die duskant deurbring en gelukkig wees.  Wat Raspertand geleer het is dat ‘n jakkals net soos ‘n mens is as dit by die onbekende kom. Dit is makliker om net op die bekende Karoogrond skaap te vang as om die grens oor te steek en deur die rivier te gaan en anderkant kos te gaan soek.   Die nood druk ‘n mens soms om die grens oor te steek.  Van die grense wat oorgesteek moet word  is om te leer motor bestuur. ‘n bankrekening te open, alleen op reis te gaan en so voorts. Daar is ook  ander groot grense om te kruis.

 

Een van die groot grense is om af te tree.  Vir Raspertand het dit beteken dat hy nou van sy kinders en kleinkinders afhanklik geraak het vir baie dinge, onder andere vir heerlike skaap. As jong jakkals was dit ‘n vreugde om op die eerste jag te gaan.  Dit was ‘n groot opgewondenheid daardie dag en vandag nog kyk hy terug met trots. Die aftree was nie so maklik nie.  Dit het ‘n laaste jag tot gevolg gehad.  Dit maak dat Raspertand meer dink aan wat agter is en minder aan wat voor is.

 

Paulus skryf van ‘n ander grens om oor te steek.  Hy beskryf dit as ‘n wedloop na die ewigheid.  By die wenpaal is die dood.  Daar ontvang sommige ‘n prys of kroon.  Ander ontvang dit nie.  Die mense hardloop mos in die Comrades Marathon meer as 90km en dan is daar die wat na die toegelate tyd opdaag.  Hulle ontvang geen medalje nie.   Die dood  is ‘n baie, baie onbekende grens om oor te steek.  Almal het daarvan gehoor, maar mens praat nie graag daaroor nie en niemand kom terug om te vertel hoe dit is nie.  Die lewe is ‘n wedloop waaraan alle mense deelneem en dié grens is vir almal om oor te steek.  Sommige steek dit oor as babas, kinders of jong mense.  Sommiges is geseënd om dit as bejaardes oor te steek.  Onlangs is ‘n ouma van 104 jaar op die radio geluk gewens met haar verjaarsdag.

 

Soos Raspertand moet ons almal ons reise onderneem en riviere en grense oorsteek.  Ons moet gereed wees vir die finale grens waarby ons onverwags kan kom.

 

Nouja, volgende keer gaan ons verder van Oupa Raspertand hoor.

 

-=-

 

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by  oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

  www.raspertand.co.za

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>