Raspertand - Nr 0009 - Raspertand reise in Afrika - Kwaliteit

 

As kind het  Raspertand baie vrae gevra. Dit het sy pa en ma soms gedaan gemaak as hy so kon vra  “Waarom?”, “Wanneer?”, “Waarheen?”, “Wat het dit gedoen?”, “Wie het dit gesien?”, “hoekom?”, of “hoeveel?”.

 

Op sy reise deur Afrika het hy nog meer vrae gehad, maar omdat hy toe al ‘n volwasse jakkals was en sy ouers al reeds beide oorlede was het hy van die vrae maar in sy gemoed gevra en self probeer antwoord.

 

Waarom is daar armoede?  Waarom is die paaie in so ‘n toestand dat dit soms beter is vir die dala-dala (die minibus-taxi) om langs die pad te ry as op die pad?  Waarom lyk dit of net die Mercedes Benz en Peugeot en ‘n paar ander motors hou?  Waarom is dit so dat die lande by die ewenaar, met die geweldige natuurlike hulpbronne, tog so sukkel? Waarom is daar so baie stukkende mense en ding in Afrika?

 

Wanneer sal Afrika die Olimpiese Spele aanbied?  Wanneer sal Afrika ‘n netto uitvoerder van voedsel word?  Wanneer sal die oorloë tot ‘n einde kom?  Wanneer sal daar vrede wees?  Wanneer sal privaat besit ‘n aanvaarde norm wees?

 

Maar soos wat julle seker nie weet nie, het Raspertand mos op ‘n dag op ‘n skip gespring agter ‘n skaap aan en toe hy weer sien was die skip op die oop see!   Hy het toe in Rotterdam beland. (Dis nou in Europa)  Daar het hy  begin dink hy het dalk van die anwoorde, want  op  die vraag “Waarom  is die Duisters suksesvol?” het hy besef hulle doen dit wat hulle doen,  goed.  As iets werd is om gedoen te word,  dan word dit goed gedoen.  Vakmanskap is by die Europese Jakkalse ‘n persoonlike trots.  Hulle werk van vroeg tot laat.  Hulle toets en maak seker dat hulle werk goed is voordat hulle dit as afgehandel beskou.  Hulle weet die winter kom elke jaar en dan is die nie maklik om buite te werk nie.  Daarom beplan hulle vooruit.

 

Maar hy het ook in Europa die vraag gevra “Waarheen is die Europeers op pad?”  Hy het gou agter gekom dat hulle norme en waardes skuif.  Dit skuif  na ‘n see van chaos.  Dit skuif nie soos ‘n gletser stadig nie, maar baie vinnig.  Norme is net nie meer dieselfde as gister en eergister nie.  Een van sy kleinkinders het vir hom verduidelik van post-modernisme.  Dit het iets te doen met "waar en reg" wat nie meer dieselfde is nie!?!   Dit is relatief.  Wat vir die een reg en waar is, is vir ‘n ander jakkals nie reg en waar nie.  Raspertand kon dit nie verstaan nie.  Dit was vir hom so moeilik soos rekenaars. 

 

Raspertand het oral waar hy kom van sy vrae gevra en na die antwoorde geluister, maar hy kan nog nie verstaan waarom Afrika nie ‘n “kwaliteit-kontinent” is nie.

 

Hy het in die Bybel antwoorde gevind wat die vrae die beste beantwoord.   Daar is so baie dat ons dit nie alles hier kan herhaal nie. (Lees gerus  self deur die Bybel en ontdek hulle self!)   Van die wat Raspertand nog kan onthou noudat sy nie meer so lekker wil lees nie, is byvoorbeeld:

 

Psalm 119:9  Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u Woord.

 

Psalm 2:1  Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?

 

Jesaja 55:2  Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.

 

Mat 7:3  En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?

 

Mat 9:4  En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte?

 

1 Joh 3:12 …. nie soos Kain wat uit die bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig.

 

Kol 2:20  As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge….

 

Spreuke 6:6  Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!

 

Phi 2:3  Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.

 

1 Joh 3:4  Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid.

 

Kol 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

  

-=-

 

Nouja, volgende keer gaan ons verder van Oupa Raspertand hoor.

 

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

 www.raspertand.co.za

 

 

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>