Raspertand - Nr 0010 - Raspertand reise in Afrika - Armoede en geluk.

 

Raspertand moes met die groot droogte gaan transport ry.  Daar was nie meer genoeg kos op Boer se plaas nie. Dit het maar swaar gegaan om die kinders gereeld kos te gee.  Hy het toe by ‘n transportryer begin werk en dit het hom deur Afrika geneem. Op een van die togte het hy vanaf die Kaap met ‘n vrag moes ry tot in Nyasaland (vandag word dit Malawi genoem). Van daar het hy ‘n vrag moes vervoer na Lubumbashi (dit word nog vandag so genoem en is nou deel van die DRC)

  

Langs die pad het hy baie jakkalse ontmoet.  Hy het baie gesels en gekuier en so die jakkalse leer ken. Omdat hy rond beweeg het, kon hy ook die verskillende jakkalse met mekaar vergelyk.  Daar is mos baie verskillende jakkalse op die aarde.

 

Iets wat vir hom in die besonder uitgestaan het, is die arm jakkalse wat dankbaar is vir elke bietjie wat hulle het.  Hulle mors nie en eet die kos sonder om te kla.  Die arm jakkalse kan ure saans gesels as gesin oor alles en nog wat.  Hulle het so min om hulle oor te bekommer.  Hulle vreugde is in klein dingetjies soos iemand se sukses om ‘n skaap of twee te vang.  Hulle het tyd vir mekaar en gasvryheid ontbreek nie.  Hulle is nederig en dink nie dat hulle belangrik is nie.  Raspertand het baie keer by hulle oorgeslaap en moes tot sy skaamte besef dat hulle vir hom die beste voorsit, terwyl hy nie sommer sy bed vir ‘n onbekende besoeker sou afstaan nie. ‘n Besoeker sal maar een van die kinders se lêplekke moes neem.

 

Raspertand het aan die begin gedink hy moes meer kontak met die jakkalse maak wat nie arm is nie.  Hulle het ekstra kos.  Daar is ook gewoonlik ekstra lêplek.  Hy het egter gou uitgevind dat die wat meer het, graag versamel sodat hulle nog meer kan hê.  As hy nou daar eet, het hulle minder.   Dit is hulle wat reeds vir ou-dag ‘n neseier het.  Hulle is op datum met die wisselkoers, die rentekoers en hulle is vooruitstrewend.  Hulle is gewoonlik baie gretig om hom te ontmoet, totdat hulle vind dat hy nie die eienaar van die transportryers - maatskappy is nie.  Hulle is lief om mense te ontmoet wat hulle weer kan help met ‘n goeie transaksie.  By die rykes is daar nie soos die Engelse se ‘n “free lunch” nie.   Raspertand het so baie van hulle ontmoet wat ook goeie kerkgangers is.  Van hulle is selfs op die kerkrade.  Hulle is vername mense wat dinge gedoen kry.  Hulle kan die regerings, stadsrade en banke oortuig om dinge in hulle guns te doen.  Selfs hulle kinders kry makliker belangrike posisies!

 

Terwyl die vragte so deur Afrika se vlaktes beweeg het, het Raspertand baie gedink en besef dat daar by die arm groep meer jakkalse is wat gelukkig is en vrede vir hulle siele het.    Dit het Raspertand laat dink en toe lees hy in die Bybel ‘n paar verse wat vir hom die antwoorde gegee het.   Hy moes sy eie hart ook ondersoek, en laat ondersoek, want ook vir hom was dit nie lekker om arm te wees nie en het sy jakkalsnatuur na meer en meer gestrewe.  Raspertand het ook die opdrag in Genesis gelees dat die aarde bewerk moet word.  Hy het besef dat dit in balans moet wees.  Sy eerste opdrag is om sy Skepper te dien en hom gehoorsaam te wees.  Alles wat hy het is genade en dit maak ‘n jakkals dankbaar om te weet hy verdien niks. Elke skaap wat na sy kant toe kom is ‘n rede tot dankbaarheid. 

 

Raspertand het besef dat baie van die wat ryk is nie besef dat hulle iets mis en eintlik arm is nie. Die kuns is om op ‘n geestelike vlak skatte en rykdom te he. Almal wat arm is het ook nie noodwendig geestelike skatte nie. Rykdom of armoede tel nie in die ewegheid nie!

 

Hier is ‘n paar van die verse wat hy in die verband gelees het:

 

Gen 2:15  Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.

 

1Tim 6:7-10  Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie.

Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.

Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.

Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.

 

Mat 6:19  Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie;

Mat 6:20  maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;

 

Open 3:17  Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.

 

Mat 19:24  En verder sê Ek vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.

 

Prediker 5:12  (5:11) Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.

 

1Tim 5:18  Want die Skrif sê: Jy mag ‘n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.

 

1Pet 4:9  Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer.

 

Hand 20:35  Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

 

Nouja, volgende keer gaan ons verder van Oupa Raspertand hoor.

 www.raspertand.co.za

-=-

 

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za  en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>