Raspertand - Nr 0011 - Raspertand reise in Afrika - Vurke in die pad.

 

Raspertand het op sy reise deur Afrika gereeld by 'n vurk in die pad gekom.  Dan moet 'n jakkals kies om links of regs te gaanDit is nie altyd maklik om te weet watter pad om te neem nie.  As jy die pad ken is dit maklik om te kies.  As jy weet waarheen jy gaan of waarheen jy wil gaan help dit al baie, maar soms weet jy net jy moet vorentoe gaan.

 

Die implikasie van die keuse is nie altyd dadelik sigbaar nie, maar lê om die draai.  Dit beteken dat ons nou een van die paaie kies en dan eers heelwat later sien dat dit eindig by 'n droë watergat waar 'n jakkals geen kos kan vang nie.  As jy dan by so 'n droë watergat gekom het moet jy omdraai, terug na die punt waar die vurk is, en daar die regte pad gaan kies.   So kan 'n jakkals baie tyd verloor en skrape optel langs die pad.  'n Verkeerde pad kies kan 'n groot fout wees.

 

Die maklike pad kan die gevaarlike een weesAs jy by 'n vurk kom en nie die paaie ken nie kan jy 'n gevaarlike pad kies.  'n Jakkals kry probleme as hy in 'n leeu vasloop!  'n Arend kan 'n klein jakkalsie vang as hy alleen is.

 

Die pad wat die meeste kies is ook nie noodwendig die regte een vir jou nieSoms is dit duidelik dat die een pad baie meer deur die diere geloop word as die ander. Die pad wat die meeste geloop word is nie altyd die beste pad nie!   Soms gebeur dit dat die leeu op die pad wag!

 

Om te vinnig 'n keuse te maak voordat al die feite aan die lig is kan ook 'n groot fout wees.  Dan is  dit 'n impulsiewe keuse wat baie keer verkeerd isMaar nou is dit ook so dat 'n Jakkals nie te lank by die keuse punt kan staan nie.  As 'n hy te lank staan en dink om te besluit waarheen om te gaan, gaan die tyd verby . Jakkalse jag in die nag. Die son kom later op en dan is dit nie meer so maklik om te jag nie. Daarom moet 'n jakkals vinnig 'n keuse maak en die pad kies waarop hy wil gaan.

 

Soms sluit daar 'n pad aan by die pad waarop jy is. Dit is dan 'n saamvloei pad.  Dit is duidelik nie 'n vurk in die pad nie.  'n Saamvloeipad is 'n vurk in die terugpad.  As jy omdraai en by so 'n saamvloei pad kom is dit 'n vurk waar jy moet kies. Dit kan so werk dat as 'n jakkals terugdraai, kry hy vurke in die pad wat nie so sigbaar was met die kom slag nie!    Dit werk so.  Met die gaan is dit 'n saamvloei pad en dan gebeur dit maklik dat dit nie raak gesien word nie.  Die saamvloei vra nie 'n keuse of 'n besluit nie.  As jy nou terug stap moet jy 'n keuse maak en die pad ken.

 

Soms is daar nie 'n terugpad nie !   Dit is soos om met 'n bootjie by 'n stroomversnelling af te gaanMaar jy kan nie weer terugdraai en stroom op gaan nie!   'n Koppie of glas wat geval en gebreek het, kan nooit weer dieselfde wees nie, al is dit geplakDit is soos eenrigting paaie in die stad. As jy daarop is kan jy nie omdraai nie.  Jy moet deurdruk en vorentoe gaan.

 

Hoe om te kies tussen die paaie is vir 'n jakkals nie maklik nie.  Daar is 'n paar dinge wat kan help.  Hy moet weet wie anders ook op die pad is.  Dit kan 'n jakkals sien aan die spore wat daar is.  'n Ander ding is om te  weet hoe ander in die verlede gekies het.  'n Jakkals moet egter seker maak dat hy nie keuses maak wat vir 'n Olifant geld nie. 'n Olifant het nie vyande nie en sy kos is blare en takke.  Die oorwegings waaraan gedink moet word, is die kos wat hy soek en die vyande wat hy hetHy kan nie soos 'n tropdier net kies soos die ander nie. 'n Ander oorweging in die keuse van die pad is om te weet wat bekend is van die bestemmings van die paaie.   Was daar waarskuwings dat die pad sou vurk?  'n Pad van luiheid lei byvoorbeeld tot armoede soos Salomo geskryf het.

 

Ag, ou Raspertand het geleer dat daar maar min werklike riglyne vir die padkeuse is, anders as die riglyne wat in die Bybel gevind word. Daar is so baie riglyne soos:

Vir die jongelinge:

Psalm 119:9  Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u Woord.

Vir die wat welvaart najaag soos Lot:

Gen 13:10  Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland.

Gen 13:11  En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei.

Gen 19:30  En Lot het uit Soar opgetrek en saam met sy twee dogters gaan woon op die gebergte, want hy was bang om in Soar te bly; daarom het hy saam met sy twee dogters in 'n spelonk gaan woon.

Jona se keuses :

Jon 1:1-3  En die woord van die HERE het gekom tot Jona, die seun van Amittai, en gesê:

Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Nineve en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig.

Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af weg;

Gen 39 Josef wat weg gevlug het vanaf Potifar se vrou.

Rigters 13 tot 16 Simson se keuses met vrouens en onder andere ook Delila.

 

 

 

Nouja, volgende keer gaan ons verder van Oupa Raspertand hoor.

  www.raspertand.co.za

-=-

 

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

 

 

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>