Raspertand - Nr 0013 - Kies die prooi reg.

 

Op 'n dag sit Oupa Raspertand onder die groot kameeldoringboom naby die Oranjerivier en dink terug aan sy jong dae. Toe kon hy nog baie vinnig hardloop, wat gemaak het dat hy gewoonlik meer vangste as sy makkers agter sy naam kon skryf. Deur die jare het hy egter besef dat deur goed te beplan en die regte prooi te kies, dit meestal baie baie, makliker is om kos te vang.

 

Hier onder die kameeldoringboom besef hy dat hy baie keer nie die beste keuse gemaak het nie!  Op 'n dag het hy 'n pragtige skaaplam gesien en sommer dadelik gestorm om dit te vang. Dit was 'n groot fout. Min het hy geweet dat Boer die skaaplam as lokaas gestel het.  Boer het die skaaplam daar laat wei waar dit onbewaak gelyk het, maar Boer se twee boerboele, Wagter en Keiser het daar naby in 'n laagte onder 'n rosyntjiebos gelê.  Oupa Raspertand se impulsiewe daad het hom amper sy lewe gekos. Sy testament was nie eers geskryf nie!  As hy toe te sterwe moes kom sou dit vir sy vrou en kinders 'n groot ramp gewees het. Daar was meer van sy sake wat toe nie in orde was nie! Later meer daaroor.

 

Op 'n ander dag het Oupa Raspertand so baie skaap geëet dat hy toe nie vinnig genoeg kon weghardloop nie.  Wagter en Keiser het hom in 'n hoek gejaag en 'n paar baie slegte byte gegee. Sy linkeragter boud pyn vandag nog as daar onweer in die lug is.  Dit staan vir hom vandag uit as die gevaar van gulsigheid. Gulsigheid kan tot groot gevaar en ongeluk lei.  Te veel van 'n ding kan baie sleg wees.

 

Die mense uit Engeland sê graag: "If you snooze, you loose".  Dit het met Oupa Raspertand ook 'n paar keer deur sy lewe gebeur. Hy het mos in die winter van koning Silwerstert se eerste regeringsjaar begin laat slaap. Dit was darem net so lekker om te wag totdat die sonnetjie hoog sit voordat die jag begin.  Die probleem daarmee is net dat meeste van die skaap dan reeds ver verby die jakkalsneste gewy het.  Die gevolg was voor die handliggend. Geen skaap vir hom en sy gesin nie!   Daar is mos ook 'n gesegde van die Engelse wat lui: "The early bird catches the worm."

 

Oupa Raspertand dink toe aan die Afrikaners met hulle gesegde "Met die water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie."  Eers het hy dit nie verstaan nie, maar nadat  hy die geweldige hidro-elektriese opwekkers in die Kongo rivier gesien het,  het hy dit verstaan!  As die water verby die opwekker vloei sonder om krag op te wek, is daardie geleentheid vir ewig verby.  Dit het hom ook laat dink aan die tyd wat nie gestop kan word nie. Dit kan nie terug rol nie.   Hiskia het 15 jaar by sy lewe by gekry, maar vir die meeste ander is ons tyd op aarde vas bepaal.  Ons moet die tyd uitkoop en nie water verby die meule laat gaan sonder om dit te benut nie.

 

Soms kan 'n prooi so mooi lyk, so lekker smaak, maar die nagevolge kan so bitter wees.   Oupa Raspertand het in die droogte van 1967 maar baie aande honger gaan slaap.   Op 'n dag het Boer sy skaap buite in die veld gelos vir die nag.  Raspertand het lekker weggelê aan die skaap, maar nie geweet dat die skaap sponssiekte onder lede gehad het nie.  Raspertand het by die dood omgedraai.  Boer het seker die skaap maar op die veld gelos want hy het besef die skaap is siek.  Dalk het hy uit moedeloosheid vergeet om die skaap die betrokke aand kraal toe te jaag.

 

Nou sit Oupa Raspertand met 'n vraag waaroor hy besin: "Hoe kan die jong jakkalse in die jare 2000 en verder die prooi reg kies?"   Hulle prooi is dinge soos 'n werk, 'n blyplek, selfs 'n land. Daar is mos baie jakkalse wat deesdae oor die oseane gaan en daar gaan jag.  Hoe kies 'n jong jakkals 'n lewensmaat?  Watter dominee verstaan die Bybel reg?

 

Skielik het Oupa Raspertand die antwoord!   Hy blaai deur die Bybel en lees:

 Ps 119:9 "Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? - Deur dit te hou na U woord."

 

Dis die antwoord vir elke besluit en keuse wat ons moet maak.  Dit geld van jonk tot oud.   So sit Oupa Raspertand en stoei wat hy moet maak met sy testament.  Sy seuns is nou almal gesoute jagters. Waar moet hy gaan aftree?  Die Kalahari lyk na die lekkerste plek, maar dis so ver van die hospitale en die kleinkinders in die stad.  Nou meet en pas hy sy besluite aan die Woord.

 

Nouja, volgende keer gaan ons verder van Oupa Raspertand hoor.

Die argiewe is by  www.raspertand.co.za

-=-

  

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

-=-

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>