Raspertand - Nr 0015 - Vlieg na 'n voortreflike bestemming.

 

Oupa Raspertand het mos in sy werkslewe heelwat moes vlieg.  Dit was vir hom 'n groot ding.  Hy het die vliegtuie en lughawens mooi bekyk en baie geleer.  Dit help hom om dinge te verduidelik wat 'n mens net van hoor en nie sien nie.  Om na 'n vreemde land te reis het 'n mense 'n paspoort en soms ook 'n visum nodig.

 

Dit is jou eie land wat die paspoort moet uitreik. Dit sê dat hulle vir jou ken en dat jy 'n burger van die land is en dat hulle jou ook toelaat om te reis.   As jy 'n skelm jakkals is, sal die department van binnelandse sake by die polisie hoor dat jy 'n skelm is en nie vir jou 'n paspoort gee nie.  'n Visum werk egter anders.  Dit is die land waarheen jy gaan wat 'n visum uitreik.  'n Visum sê jy is welkom en as jy daar kom sal jy binne gelaat word.  Dit word uitgereik as jou paspoort reg is en die redes vir jou reis aanvaar word.  Oupa Raspertand besef dat die Bybel praat van 'n soortgelyke situasie!   'n Mens kan die sonde aflê op aarde en dit is miskien soos 'n paspoort, maar jy het 'n visum nodig om in die hemel in te gaan.  Jesus reik die visums uit. Hy reik dit net op versoek uit.  Dit is gratis, maar jy sal nie 'n visum kry as jy 'n kriminele rekord het nie.  As jy voortgaan met kriminele dade sal jou visum terug getrek word.  Dan is dit asof jy nooit een in die eerste plek gehad het nie.  As jy nie aansoek doen nie, gaan jy ook nie 'n visum kry nie.

 

Daar is 'n groot en komplekse ondersteunings- netwerk om jou in staat te stel om te kan reis.  Daar is lughawens, lugrederye met vliegtuie, vlieëniers, lugwaardinne en nog baie ander.    Die mense wat die bagasie hanteer is ver van die mense wat die visums uitreik en tog maak hulle die reis moontlik met wat hule doen.  As jou tas nie saam met jou in die vreemde aankom nie, het jy nogal 'n paar probleme op die poot.  Die wat geroep is om  by visum kantore te werk kan soms dink die hele reis hang net van die paspoort en visum af  en daarom is hulle die belangrikste, maar almal dra 'n deel by.  Paulus het die Gemeente van Jesus vergelyk met die liggam waar die verskillende dele van die ligaam ook elkeen 'n eie funksie het.  Lees dit gerus!   In die lugvaartbedryf is dit ook so.  As ons dit vergelyk met die reis na die ewigheid is daar ook verskeie gebeure en funksies wat alles nodig is om die eindbestemming te bereik.

 

Lugredery kan 'n mens met die kerk vergelyk. Dit is 'n nodige organisasie. 'n Mens kan op uitsonderings- basis sonder 'n lugredery vlieg.  Oupa Raspertand-hulle moes eenmaal vir 'n baie belangrike vergadering oor transportry na Lubumbashi in die Kongo gaan. Omdat daar omtrent 25 transportryers op een slag moes gaan, het hulle saam 'n vliegtuig gehuur. (Die Engelse het die term "charter")  So kan iemand 'n christen wees sonder om van die lugrederye ( kerk ) gebruik te maak, maar dis die uitsondering.  Paulus maan dat die onderlinge byeenkomste nie versuim moet word nie.  Hy het oral waar hy gegaan het gemeentes gevestig met ouderlinge as die opsieners  en leiers om toesig te hou oor die kudde.

 

Die trapleertjie wat na die vliegtuig kom het 'n besonder funksie.  Dit help die passasiers, kaptein wat ook die vlieenier is , die  navigator en aanboord personeel om in en uit die vliegtuig te kom. Die bestuurder van die trap het 'n verantwoordelike werk.  Die kaptein kan reken sy werk is baie verantwoordeliker, en dit kan so wees, maar as die bestuurder van die trap per ongeluk in die vliegtuig vas ry kan dit baie groot skade en selfs 'n brand veroorsaak.  As hy die trap te ver vanaf die vliegtuig stop kan iemand se voet daar deurglip en breek.  So kan iemand in die sekulere werk, wat ons kan vergelyk met die trap-operateur, ook 'n sleutel funksie in die Koninkryk van Jesus vervul.   Hy bring die leer tot by die deur. 'n Vraag is nou hoe word die deur oop gemaak? Is dit van binne of van buite?

 

Oupa Raspertand het gesien dat die vliegtuigdeur van binne oop gemaak word.  Die lugpersoneel maak die deur oop sodra die kaptein tevrede is dat alles reg en veilig is.  Die vliegtuig moet geparkeer wees met blokke voor en agter die wiele. Die vliegtuig moet elektries geaard wees. Die engins moet afgeskakel en reeds opgehou draai het.  Die trappe moet in plek wees. Die lughawe moet reg wees om die passasiers te ontvang.  Die deur word dan van binne oop gemaak.   So sal die poorte van die hemel ook oopgemaak word van binne af vir die wie se naam opgeskryf is in die Boek van die Lewe.  Oupa Raspertand het nou 'n dringende vraag vir alle lesers:  Het jy 'n paspoort en 'n visum of beplan jy om later eers aansoek te doen?   Maak jy seker dat jy nie rekord opbou wat sal maak dat jou paspoort terug getrek kan word nie?  Het jy 'n is visum wat deur die ware agentskap uitgereik is?   'n Vervalste bestuurderslisensie kan 'n mens skynbaar in Suid-Afrika koop! So is daar naam Christene wat skynbaar visums vir die hemel het, maar Jesus het self gesê dat Hy vir sommiges sal moet sê: "Gaan weg ek ken jou nie!".

 

Die later- aansoek storie werk net nie!  'n Vliegtuig wag nie vir passasiers wat nie betyds is nie.  As die lugredery nie tevrede is met jou visum nie, word jy nie opgelaai nie.  Dit is die land waarheen jy reis wat die finale sê het of jou visum aanvaar word of nie.  Ons ken die toekoms nie en weet nie of daar 'n kans is om later nog 'n aansoek betyds in te dien nie.

 

Helderrooi kegels word om die vliegtuig gepak nadat dit tot stilstand gekom het.  Dit  maak dat al die voertuie rondom die vliegtuig weet waar om nie te ry nie en voetgangers weet waar om nie te loop nie.   Daar is die branstof tenkers wat brandstof kom ingooi, die bagasie waentjies, die kos vragmotors en selfs 'n voertuig om rolstoele te hanteer.  Hulle moet almal tot by die vliegtuig kom.    Die Here roep diegene wat die kegels moet uitsit in ons samelewing.  Daar is so baie gevare in die wêreld vandag.  Oupa Raspertand wil dit nie eers bedink nie.  Die Bybel sê bedink dit wat eerbaar is en op 'n ander plek dat ons nie eers die dinge wat so gruwelik is moet noem nie!

 

Daar is 'n persoon van die grondpersoneel wat vooruit stap om passasiers te lei vanaf die trappe na die ingang van die lughawe gebou. Die persoon wag by die onderkant van die trap. Die persoon stap dan saam met die eerste passasiers en lei hulle na die aankomssaal. Sommiges kom vir die eerste keer daar aan en die passasiers van die betrokke vlug gaan dalk deur 'n ander deur as die vorige keer.  Dit help nie om na ander te kyk of op vorige ondervindings staat te maak nie.   Oupa Raspertand besef dat hy in sy lewe te maklik ander passasiers gevolg het, in plaas van die aangewyste leier te volg.   Solank die passasiers almal op die regte koers is kan hulle mekaar suksesvol volg.  Die probleem kom egter in as daar een is wat 'n "kortpad" vat.  Dit kan dan gebeur dat hulle soos skape verdwaal.   Volg jy tans die pad wat Jesus aangedui het of volg jy mede-passasiers?  Weet jy reeds dat jy tussen 'n klompie passasiers beweeg wat waarskynlik valse visums het?  Ps 1 se dit gaan goed met die man wat nie tussen sulke mense beweeg nie.  Oupa Raspertand besef dat 'n jakkals baie lank oor die paragraaf moet sit en dink en seker maak waar hy staan.

 

Daar is baie geskryf in die wêreld en daar word baie geskryf.  Openbaring noem dat al die boeke van die wêreld nie alles wat Jesus gedoen het kan bevat nie!   Daar word skynbaar tans ongeveer 3000 boeke per dag in die wêreld gepubiseer! Daar is heelwat oor die Christelike reis geskryf. Oupa Raspertand dink vandag aan  'n paar soos "Langs bergpaaie met die jeug", "Pilgrims progress" deur John Bunyan. 'n Kosbare beeld is die twee weë. In die moderne post-moderne era waar dinge grys is, is dit maklik om dinge wat die Bybel duidelik skei te vermeng. 'n Vliegtuig vlieg of vlieg nie.  Jy is betyds vir 'n vlug of laat.  Jy het saam opgestyg of jy het agter gebly. 'n Vliegtuig moet voor die einde van die aanloopbaan in die lug wees of daar is baie groot probleme.   Die Bybel se riglyne is ook baie duidelik. Jesus sê "Ek is die deur.  Wie nie deur My ingaan nie, is 'n dief en 'n rower".  'n Halwe visum bestaan eenvoudig nie.  Jy gaan of toegelaat word  of jy gaan weg gewys word.  Dit klink so hard, maar daar is net 'n hemel en 'n hel in die hiernamaals.  God is net almagtig of Hy is nie almagtig nie!  Jy glo Hom onvoorwaardelik as Hy almagtig is, of jy wantrou Hom as Hy nie in jou oё almagtig is nie.

 

Van Oupa Raspertand se sleutelbord: Groete van huis tot huis en mag jou paspoort en visum in orde wees en bly.  As die reis aangenaam is, is dit 'n bonus, maar dit is belangrik dat die lewensreis op die regte plek sal eindig.  Dis al wat tel. Dis die groot skat wat nie deur mot en roes verniel word nie.

 

-=-

 

Nouja, volgende keer gaan ons verder van Oupa Raspertand hoor.

Die argiewe is by www.raspertand.co.za

-=-

 

Om nie meer Raspertande te ontvang nie,  stuur 'n e-pos aan Raspertand by oupa@raspertand.co.za en sit beeindig in die onderwerp. Om met hom te gesels stuur ook maar 'n e-pos na dieselfde adres.

-=-

Terug na die inhoudsopgawe <klik hier>